Vader Jacob.....


Johannes de Villiers
Wierook kolk in die wintersonstrale wat deur die rooi gordyne val. Oral brand kerse. Teen elke stukkie oop ruimte aan die mure, hang ikone van antieke heiliges. Bleskop-heiliges, bebaarde heiliges, knielende heiliges, heiliges in hooftooisels.
Vader Jacobus van der Riet, priester van dié gemeente, een van net twee Afrikaanses in die Oos-Ortodokse Kerk, prewel gebede terwyl hy vir die diens voorberei. Mens hoor los woorde - “aartsbiskop ... Jacobus ... sonde ... Maria.”
Eenkant lê Die Goddelike Liturgie van Johannes Chrusostomos, waaruit die gemeentetjie binnekort die diens gaan sing, ’n Ortodokse diens nes dié in kerke in Bulgarye, Roemenië en Griekeland.
Wanneer die diens afskop, swaai Van der Riet (in ’n wit gewaad met goud geborduurde kruise) ’n vat vol wierook wat na Karoobossies ruik. Die gemeente dreunsing woorde wat wissel vanaf die bekende (“Prys die Here, o my siel”) tot by iets minder bekend (oor “die heilige Theotokos en immermaagd Maria”).
As jy dit nie gewoond is nie, klink die dreunsang aanvanklik soos ’n monotoon. Maar later tel jy die hipnotiese ritme op van ’n vreemde melodie wat herinner aan ’n verre land met skape en bokke en afgeleë kloosters teen eensame berghange.
Die diens duur ’n uur en ’n half. Die ou mense moet later sit en jong meisies skop hul hoëhakskoene af. Kinders raak kriewelrig en jaag mekaar by die deur uit.
Net vir vyf minute onderbreek Van der Riet, ’n skraal man met ’n Raspoetin-baard, die dreunsang met ’n preek. “Party mense vra hoekom Jesus dan nie al die siekes gesond maak nie? Is Hy dan nie jammer vir die mense wat die hospitale vol lê of in rye staan by klinieke met hul skete en pyne nie? ... Hy sal dit eendag doen, maar intussen sê die Here vir ons: Versorg julle die siekes na die beste van jul vermoë en ek sal saam met julle werk om hulle gesond te maak.”
Van al die Christendom se vertakkings is die Ortodoksie seker die vreemdste aan Afrikaanse mense. Van der Riet is een van twee priesters wat dié geloof in Afrikaans bedien. Die ander een, vader Zacharias van Wyk, is op Robertson in die Wes-Kaap.

Vader Jacobus van der Riet doens sy voorbereidings voor die diens in Eldoradopark.




 Die Onsienlike Son, ’n bundel gedigte van Van der Riet oor dié kerk se heiliges is onlangs gepubliseer.


Comments